Siyabonga ‘Scarra’ Ntubeni het met sy sterk vertonings en breë glimlag tot diep in ondersteuners van die DHL-Westelike Provinsie se harte ingekruip
As Scarra Ntubeni in lewende lywe voor jou staan, kan jy amper nie glo dís die seun wat só ‘n reuse impak in vanjaar se Absa Curriebeker-reeks maak nie.
‘n Mens sou meer vleis om sy lyf verwag. Hy is immers ‘n haker en onder sy take tel die fisieke uitdaging van skrumwerk – ‘n faset waar jy geen ander keuse het nie as om jou teenstander in die oë te kyk.
Dis egter juis Ntubeni se bydra in die vaste fasette wat as sy sterkpunt gereken word. Hy dwing gesag in die voorry af en word óók geken aan goeie ingooiwerk by die lynstane.
“Jy gaan dit as haker maak as jy die bal akkuraat kan ingooi by die lynstane en goed kan skrum. Dit gaan oor wie die basiese dinge die beste doen,” som hy die belangrikste eienskappe van ‘n haker op.
Hy is in daardie opsig geseënd om in dieselfde provinsie as Tiaan Liebenberg te speel. ‘n Beter leermeester kon hy nie voor gevra het nie en hy pluk nou die vrugte in die beseerde Springbok-haker se afwesigheid.
“Tiaan help my selfs wanneer hy beseer is. Sy onselfsugtigheid is merkwaardig en ek kry steeds SMS-boodskappe van hom om my voorspoed toe te wens en moed in te praat,” sê Ntubeni.
Die 22-jarige Ntubeni het die jaar op die krukkelys afgeskop, maar het sedert sy terugkeer in die Vodacom Superrugby-wedstryd teen die Hurricanes in Palmerston North op 26 April stoom opgetel.
Hy was in die DHL-Stormers se beginspan vir hul laaste drie wedstryde in die Super-reeks en het die WP se Nr 2-trui gedra in vyf van hul ses Curriebeker-kragmetings tot op hede vanjaar.
Een van die kenmerke van sy spel is sy vaardighede met die bal in die hand. Hy het twee van die WP se drieë in hul onlangse sege van 25-19 oor die Haaie met goeie aangeewerk help skep.
“Ek dink dis te danke aan die vertroue wat die afrigters in my stel, want daarmee saam kom die vryheid om myself uit te leef,” sê hy.
Ntubeni is in Oos-Londen gebore en was aan Dale College in King Williams Town op skool voordat hy in Graad 10 na King Edward VII in Johannesburg toe is. Laasgenoemde skool het terloops óók vir Bryan Habana en Joe van Niekerk opgelewer. Die bynaam Scarra is eintlik ‘n stamnaam. Sy pa is daarop genoem en dit het mettertyd ook sy noemnaam geraak.
Ntubeni is as junior Kaap toe gelok en tel onder die WP Rugbyinstituut se vele produkte.
“Dis ‘n ongelooflike plek,” vertel hy van die Instituut. “Dit lewer spelers van wêreldgehalte op en ek kan dit nie sterk genoeg aanbeveel nie. Dis so professioneel as wat jy kan kry.”
Dis welbekend dat Ntubeni en die Springbok-losvoorspeler Siya Kolisi beste maats is en hulle het vir ‘n rukkie ‘n huis gedeel wat deur die WP Rugbyunie voorsien is. Ntubeni bly nou saam met Tazz Fuzani en Sikhumbuzo Notshe. “Dis ‘n baie vreemde kombinasie onder een dak… Tazz is darem ‘n goeie kok!” vertel hy.
Een van Ntubeni se uitstaande kenmerke is dat hy sy rugby met ‘n glimlag speel. Dis ook hoe hy die lewe benader en hy maak met eerste ontmoeting ‘n blywende indruk.
Terwyl hy nog in die vroeë stadium van sy loopbaan is, het hy reeds ‘n spesiale verhouding met Kaapse rugbyondersteuners opgebou. Geen ander speler het groter applous as hy gekry nie toe hulle een vir een ná verlede jaar se Curriebeker-eindstryd by die lughawegebou uitstap.
Ntubeni het dit nou as doelwit gestel om mettertyd soos sy goeie vriend Siya vir die Springbokke te speel.
“Die Groen en Goud is beslis iets wat my dryf. Terselfdertyd is dit nie iets waarop ek as sulks fokus nie. Ek wil net aanhou om te verbeter. ‘n Mens moet ook toegee dat Bismarck du Plessis en Adriaan Strauss baie goeie rugby speel en jy nie sommer daar gaan inkom nie,” sê hy.
Die noodlot kan ‘n speler egter vreemde draaie laat stap en Ntubeni besef die kortste roete is om aan te hou presteer.
Hy is vol vertroue dat die Curriebeker in die Kaap sal bly.
“Ons het baie goeie momentum van die Super-reeks af oorgedra. As jy kyk na die agttal, is dit slegs Siya, Eben Etzebeth en Duane Vermeulen wat vanweë Springbok-verpligtinge nie vir ons beskikbaar is nie,” sê hy. “Ons is oorgehaal om die beker hier te hou.”
DHL Western Province Matchday Magazine