FEATURED

V&A: Vermaak, klein maar getrein!

PUBLISHED: September 26, 2015


Met die aanwins van Jano Vermaak het die DHL-Westelike Provinsie ‘n skrumskakel gekry wat tot vertonings van wêreldgehalte in staat is.

Dawie Snyman, die DHL-WP se agterlynafrigter, het dié Bok-buksie goed opgesom: “Hy kom vinnig by die afbreekpunte, kan bresse slaan van agter die oond, organiseer goed én het ‘n bedrewe skopvoet. Hy gaan vorentoe vir ons ‘n opwindende speler wees.”

Vandag, teen die Pumas op DHL-Nuweland, het Vermaak die eerste keer ‘n wedstryd vir die DHL-WP begin. Hy is al vyf keer as plaasvervanger ingespan en sy drie teen die Blou Bulle verlede week was straks ‘n voorsmakie van wat hy vorentoe kan bied.

Hoe het dit gevoel om jou eerste drie vir die DHL-WP teen die Blou Bulle van alle spanne te druk?
Dit was baie spesiaal, veral omdat dit op DHL-Nuweland was. Die Bulle is boonop die WP se tradisionele aartsvyand, want dit nóg méér spesiaal maak.

Is dit frustrerend dat jy tot dusver nie meer speelkans kon kry nie?
“Nee, want ek het uit die staanspoor geweet waar ek staan. Groomie (Nic Groom) was die ou in die saal op skrumskakel. Hy het goed vertoon in die Vodacom Super-reeks en daardie spelpeil in die Absa Curriebeker-reeks voortgesit. Ek vervul graag die rol van impakspeler van die plaasvervangersbank af indien dít is wat die afrigters van my verlang. Dis uiteraard lekker om wedstryde te begin, maar ek is ‘n groot spanman.”

Wat was die probleem met jou vinger wat jou vroeër vir ‘n paar weke langs die kantlyn gehou het?
“Ek het in ons wedstryd teen die Blou Bulle in Pretoria ligamente in my wysvinger beseer. As skrumskakel gebruik jy veral daardie vinger. Daar is steeds ‘n bietjie ongerief en die dokter sê die pyn sal eers na drie of vier maande ten volle wyk. Dit verhoed egter nie dat ek nou kan speel nie.”

Jy was nog altyd geken aan jou goeie ondersteunende spel op die aanval. Is dít wat ons óók in die Kaap van jou kan verwag?
“Vir seker. Die meerderheid van my drieë kom van die ondersteunende lyne wat ek hardloop. Dis die basis van my spel. Ons speelstyl laat my ook toe om dit te doen. Ek kan nie wag om meer drieë te druk nie!”

Hoe ervaar jy die opset by die DHL-WP?
“Die opset by die Sentrum vir Uitnemendheid en oefengeriewe is ongelooflik. Alles is geweldig professioneel en dís wat ‘n mens van die DHL-WP kan verwag. Dis ‘n top rugbyunie en ‘n wêreldbekende handelsmerk. Ek het lekker ingeskakel. Die afrigters se kennis van die spel is óók baie goed.”

Hoe ervaar jy Kapenaars se passievolle meelewing met die span?
“Dis wonderlik om die mense se passie hier te sien. ‘n Mens kon verlede Vrydagaand teen die Bulle opnuut sien hoe lojaal die ondersteuners is. Selfs al verloor die span, sal hulle steeds in groot nommers opdaag.”

Wat het jou laat besluit om Toulouse in Frankryk te verlaat om by die DHL-WP aan te sluit?
“Ek het tot dusver nog net drie toetse vir Suid-Afrika gespeel en wil graag meer op my kerfstok kry. Om na die DHL-WP toe te kom was dáárom vir my ‘n goeie besluit, veral omdat hulle speelstyl my goed pas. Die DHL-WP se toekoms lyk blink met al die puik jong spelers wat opgang maak.”

Is daar enigiets anders benewens om vir die Springbokke te speel wat jy nog ‘n brandende begeerte het om in jou loopbaan te bereik?
“Ek het nog net een keer in ‘n Curriebeker-eindstryd gespeel, maar hom nie gewen nie. Dít was in 2007 vir die Leeus teen die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein. Die Curriebeker-reeks is ‘n tradisieryke kompetisie en ek wil hom dáárom baie graag wen. Daar is top-Springbokke wat nie met ‘n Curriebeker-wennersmedalje spog nie.”

Hoe het die span die skip omgekeer ná die agtereenvolgende nederlae teen die Bulle in Pretoria en Cheetahs in Bloemfontein?
“Dis onafwendbaar dat almal ‘n rukkie sal neem om aan te pas wanneer daar ‘n nuwe mengsel van afrigters en spelers is. Jy móét onder moeilike omstandighede eenvoudig vasbyt en deursettingsvermoë aan die dag lê. Ons spangees is uitstekend.”

In watter aspekte van die spel dink jy kan julle nog verbeter?
“Dit gaan goed met ons lynstane en skrumwerk, maar ons sal graag vir meer fases besit wil behou en nie só maklik omkeerbesit afstaan nie. Die meeste drieë word van omkeerbesit gedruk. Ons wil óók by die afbreekpunte verbeter om vinnige balbesit te kan kry. Dít kan ons baie gevaarlik op die aanval maak.”

Wie is jou kamermaat in wegwedstryde? Kan jy sy slegte gewoontes onthul?
“Dis Jaco Taute. Hy het nie juis slegte gewoontes nie!”

Hoe ontspan jy ná ure?
“Ek geniet dit om gholf te speel en in die diepsee vis te vang. My voorgee op die gholfbaan is 18.”

DHL Western Province Matchday Magazine