Die DHL-Stormers en Westelike Provinsie kon vanjaar danksy Stephan Coetzee ‘n beseringskrisis op haker die hoof bied.
Sou jy jou voor afskop dié seisoen kon indink dat jy só ‘n belangrike speler vir die DHL-Stormers en WP sou wees?
“Ek het myself voorberei vir die geleentheid, maar nooit gedink dit sal sommer gebeur nie. Dit was altyd ‘n groot droom en ek is baie bly dat ek die kans gekry het. Ek was met afskop die vierde haker in die ry agter Scarra Ntubeni, Tiaan Liebenberg en Deon Fourie.”
Dit moes opwindend gewees het om jou van nêrens skielik in Australië en Nieu-Seeland saam met die Stormers te bevind?
“Ja, dit was beslis ‘n hoogtepunt! Dit was die eerste keer wat ek oorsee was. Dit was nie oorweldigend nie, want die span het dit vir my maklik gemaak en die afrigters het my laat welkom voel.”
Wat het deur jou gedagtes gegaan toe jy die oproep kry om jou by die span aan te sluit?
“Ek was baie opgewonde en die eerste ding wat ek gedoen het was om my pa te bel. Dit was ‘n droom wat bewaarheid is. Dit was lekker om vir al my harde werk beloon te word.”
Gegewe jou agtergrond by Hoër Jongenskool Paarl was jy seker altyd ‘n WP-ondersteuner, of hoe?
“Ja, my pa het my al Nuweland toe gebring sedert ek drie was. Dit was dus vir my ‘n groot ding om vir die DHL Stormers te kan speel.”
Vertel ons van hoe jy sedert jong dae in die WP-kultuur geskool is?
“Ek het op o.16-vlak in die Grant Khomo-week gespeel en daarna op o.18-vlak in die Akademie-week voordat ek in 2010 WP Cravenweek-kaptein was. Daarna is ek na die Rugbyinstituut in Stellenbosch toe en het ek die WP op o.19-, o.21- en Vodacombeker-vlak verteenwoordig voordat ek vanjaar Super- en Curriebeker-rugby begin speel het.”
Het jy vir jou kort- en langtermyn-doelwitte?
“Ja, beslis. Ek sal graag die nr.2-trui my eie wil maak. Ek wil vir almal wys dat ek standvastig is en dat hulle op my kan staatmaak vir goeie spel by die lynstane, skrums en in die los. Ek wil bewys dat ek goed genoeg is om op hierdie vlak te kan meeding.”
Hoe het julle só ‘n lekker spangees gevestig?
“Ons het ‘n kamp in Langebaan gehad waar almal daarop ingekoop het. Ons motiveer mekaar by elke oefening, wat dit makliker maak om druksituasies in wedstryde te hanteer.”
Dis seker lekker om nou in ‘n wenspan te speel nadat julle swaar getrek het in die Vodacom Superrugby-reeks.
“Dis natuurlik altyd lekkerder om in ‘n wenspan te speel, maar ‘n mens leer ook baie as jy swaar trek. Die kamp in Langebaan was baie waardevol om ons ommekeer te bewerkstellig. Elkeen van ons het onderneem om ons beste te gee en die span se belange bo sy eie te verhef. Die manier wat ons nou oefen help ook en ons het meer vryheid in hoe ons speel. Dit help om die ouens se natuurlike talent te laat deurkom.”
Pas die vinnige speltempo jou of moes jy jou gewone speelstyl aanpas?
“Dit pas my baie lekker om teen ‘n vinnige tempo en ‘n hoë intensiteit te speel. Dis die manier vorentoe en hoe ons elke week oefen.”
Hoe sal jy jouself as haker opsom?
“Ek sou sê my skrumwerk, ingooie by die lynstane en verdediging is skaflik. Ek kan myself ook as baldraer laat geld.”
Wat beskou jy as jou hoogtepunt vanjaar?
“My hoogtepunt was om in die DHL Stormers se beginspan te wees vir die wedstryd teen die Haaie in Durban, waar ek vir Bismarck du Plessis as regstreekse teenstander gehad het. Dit was spesiaal dat ons die wedstryd in die laaste minuut met Jaco Taute se skepdoel kon beklink.”
Wie is jou goeie pelle in die span?
“Ek en Kobus van Wyk is goeie pelle. Ons het al teen mekaar gespeel, want hy was op Paarl Gimnasium aan skool. Daar is ‘n lekker gees onder die jong ouens en ek kom eintlik met almal baie goed oor die weg.”
Wie is jou kamermaat tydens wegwedstryde en wat is sy slegte gewoontes?
“Kobus is my kamermaat. Hy is baie lief vir sy hare!”
Hoe ontspan jy ná ure?
“Ek geniet dit om saam met familie te ontspan, om te braai en lekker in die buitelug te wees.”
DHL Western Province Matchday Magazine