FEATURED

V&A met Sikhumbuzo Notshe

PUBLISHED: October 22, 2014


Siya Kolisi se besering het die deur vir Sikhumbuzo Notshe laat oopswaai om sy stempel in vanjaar se Absa Curriebeker-reeks af te druk.

Het jy voor afskop dié seisoen gedinkdat jy só ver sal vorder as om vir beidedie DHL-Stormers en Westelike Provinsie se Curriebeker-span te speel?
“Elke jong speler het drome en onder myne was om vir die DHL-Stormers in die Vodacom Superrugby-reeks en DHL-WP in die Absa Curriebeker-reeks te speel. Jy droom van sulke geleenthede terwyl jy op skool agter jou lessenaar sit. Ek is geseënd en die afrigtingspan baie dank verskuldig vir die geloof wat hulle in my geplaas het. Ek leer geweldig baie en geniet elke oomblik.”

Jy het verlede jaar al blootstelling aan senior rugby in die Vodacombeker-reeks gekry. Wat was jou ervaring van John Dobson en Dawie Snyman as afrigters?
“Hulle was ongelooflik. Ek sê dit ook nie bloot om in hul goeie boekies te kom nie. Jy kan nie vir beter afrigters op daardie vlak vra nie. Hulle het geweldig baie vir my gedoen en verstaan my nie bloot as speler nie, maar óók as mens. Hulle was briljant. Dit het my toegelaat om my talent binne ‘n positiewe opset te kan uitleef.”

Vertel vir ons hoe jy deur die DHL WP se strukture gevorder het.
“Ek het die WP reeds in 2005 as 12-jarige seun in die Cravenweek vir O13-spelers in Mosselbaai verteenwoordig. Die jaar daarna het ek in Oudsthoorn wéér in die Cravenweek gespeel. Ek het toe in 2009 saam met Cheslin Kolbe by die Grant Khomo-week vir O16-spelers in Riversdal gespeel. In 2010 het ek in die Cravenweek vir O18-spelers in Welkom gespeel en in 2011 in Kimberley. Ek is toe in 2011 in die SA Skolespan opgeneem. Die blou en wit bloed pomp dus al vir ‘n geruime tyd deur my are!”

Jy is ‘n boorling van King William’s Town in die Oos-Kaap. Hoe het jy in die Kaap beland?
“My ouers het Kaapstad toe getrek toe ek nog ‘n baba was. My ma was ‘n bediende en het hard saam met my pa gewerk om brood op die tafel te sit. Hulle was altyd daar vir my en ek het in die proses goeie waardes geleer – om mense te respekteer en vriendelik te wees. Dit was baie goed vir my om daardie dissipline in my lewe te kry.”

Wat doen jou pa?
“Hy is tans in Oos-Londen, waar hy trokke bestuur.”

Het hulle al kom kyk hoe jy op DHL-Nuweland speel?
“My ma was hier toe ek vir die eerste keer teen Griekwas vanjaar vir DHL-WP opgedraf het. Ek dink sy wag nog vir my om vir haar ‘n motor te koop! Sy ry in taxis Nuweland toe.”

Speel jy tans saam met van jou helde?
“As skoolseun het ek opgekyk na Nizaam Carr en Siya Kolisi, wat in die eerste spanne van hul skole gespeel het toe ek in Graad 8 en 9 was. Snaaks genoeg onthou hulle my uit daardie dae.”

Wat sal jou boodskap wees aan jong spelers wat in jou voetspore wil volg?
“Ek sal graag wil hê hulle moet besef dat harde werk die sleutel hou. Dis slegs dán dat jy beloon sal word. Ek was nog altyd ‘n voorstander van ‘n goeie werksetiek en het geweet die geleenthede sal kom solank as wat ek aanhou om die ure in te sit.”

Jy is vernaam ‘n agtsteman. Was dit moeilik om aan te pas toe jy gevra is om oopkantflank te speel?
“Dit was nie só moeilik nie. My eerste instink is wel om die bal te wil dra, maar ek het in die Vodacombeker-reeks aanvanklik die nr.6-trui onder Dobbo se afrigting gedra. Ek is óók as steelkantflank en toe agtsteman ingespan. Dobbo het uiteindelik toe vir my gesê dat agtsteman my beste posisie sal wees. Daar is natuurlik ‘n noemenswaardige verskil tussen die posisies. As jy nr.6-flank is, moet jy vinnig by die eerste afbreekpunt uitkom en speel jy bal toe. Ek is op my gemaklikste in ‘n rol waar ek die bal dra.”

Die spelers en afrigtingspan praat dikwels oor die goeie gees en energie op die oefenveld. Hoe ervaar jy die opset?
“Ons oefeninge is redelik kort en jy moet gefokus wees om jouself binne daardie tyd deur jou intensiteit te laat geld. Jy moet hard werk, maar dit terselfdertyd geniet.”

Waarmee hou jy jou ná ure besig?
“Nie veel nie! Ek hou daarvan om te ontspan en tyd met vriende deur te bring.”

DHL Western Province Matchday Magazine