Dis moeilik om te glo as jy kyk hoe hy op die rugbyveld inklim, maar Rynhardt Elstadt sê hy is eintlik ‘n ‘rustige’ ou.
Die eerste vraag moet wees oor daardie grondskoppie wat tot Juan de Jongh se drie aanleiding gegee het in die wedstryd teen Griekwas. Is dit nie teen elke reël in die boek vir 'n voorspeler nie?
“Ek dra seker nie die Nr.10 op my rug nie, maar het die geleentheid raakgesien. Ek dink uitputting het ook 'n rol gespeel. Ek was moeg en toe sien ek vir Juan en Gerhard van den Heever langs my. Een van hulle kon die bal maar jaag!”
Het jy onder Matt Proudfoot en jou mede-voorspelers se tonge deurgeloop?
“Nee, nie regtig nie. Hulle het gesê ek het gewys hoe dit gedoen moet word. Dis tyd dat die voorspelers vir die agterspelers leer hoe om te skop!”
Jy is glo in die proses om 'n vlieglisensie te kry.
“Ja, ek het so twee maande gelede begin en is halfpad. Ek het nog 'n paar eksamens om af te lê en vliegure wat ek moet voltooi. Ek vlieg in 'n 'Sling'. Dis 'n twee-sitplek vliegtuig waarmee daar al om die wêreld gevlieg is. Ek wil my dan aanstaande jaar daarop toespits om 'n kommersiële vlieglisensie te kry.”
Hoe het daardie stokperdjie begin?
“Ek het toe ek as kind die eerste keer in 'n vliegtuig was al gesê dat ek 'n vlieënier wil word. Ek het 'n paar maande gelede 'n vriend van Callie Visagie (die Blou Bulle se voormalige Maties-haker) ontmoet wat my aangemoedig het om 'n draai by 'n vliegakademie te maak.”
Hoe lank gaan dit neem voor jy jou lisensie kry?
“Seker nog so 'n maand en 'n half tot twee maande. Jy moet 45 ure vlieg en agt eksamens aflê. Jy vlieg net tot op 'n sekere tydstip saam met 'n instrukteur voor jy op jou eie begin. Ek het al 'n hele paar uur op my eie gevlieg. Almal vra of ek nie snuweeagtig was nie, maar ek is in daardie opsig 'n snaakse ou. Dit het my nie regtig gepla nie.”
Almal praat oor Rynhardt Elstadt as die DHL-Westelike Provinsie se vuurstoker. Is daar 'n kant van jou wat jy voel mense nie raaksien nie?
“Ja, ek is baie rustig van die veld af. Ek is grapperig en neem die lewe nie baie ernstig op nie. Ek hou van twakpraat meer as enigiets anders.”
Hoe sal jy jou persoonlikheid beskryf Jy is seker nie saggeaard nie!
“Ek is baie rustig en 'n reguit ou. Mense weet waar hulle met my staan.”
Jy het jouself nou op die flank gevestig nadat jy vroeër dikwels slot gespeel het. Hoe voel jy oor jou vordering daar?
“Ek geniet dit baie. Die ervaring wat ek op slot opgedoen het was baie waardevol en ek kan altyd weer daar speel as dit nodig is. Ek doen steeds die harde werk van 'n slot, al het ek die Nr.7 op my rug.”
Is dit moeilik vir 'n ou wat as't ware die vuur in die span se enjinkamer stook om sy humeur in toom te hou?
“Ek sou nie sê dis moeilik nie. Jy bevind jou net in 'n posisie waar dit moeilik gaan en jy houe vat. Die belangrike ding is om die spreekwoordlike vuur in jou maag en ys in jou kop te hê.
Het jy 'n spesifieke leiersrol in die span?
“Ek is die kaptein op verdediging en lei van voor daar.”
Wie is die taaiste teenstanders wat jy al aangetref het
“Bakkies Botha was 'n taai kalant en die Whitelock broers van Nieu-Seeland is ook nogal fisiek. Die taaiste dae wat ek al ervaar het was almal teen Suid-Afrikaanse spanne. Dis nie as sulks individue nie. Dit lê meer in die span se aanslag.”
Hoe voel jy oor die lostrio van jouself, Deon Fourie en Nizaam Carr?
“Daar is 'n goeie balans met elkeen van ons wat 'n spesifieke rol vervul. Deon dra die bal goed en vervul die rol van baljagter, Nizaam is 'n vaardige hardloper met die bal, en ek is 'n goeie verdediger.”
Wat is die belangrikste les wat julle in vanjaar se Vodacom Superrugby-reeks geleer het wat in die Absa Curriebeker-reeks toegepas kan word?
“Ek sal sê dat ons konsekwent moet wees – nie om een week te wen en die volgende te verloor nie. Hopelik kan ons goed vaar in vanjaar se Curriebeker-reeks en daardie spelpeil na aanstaande jaar se Super-reeks oordra.”
DHL Western Province Matchday Magazine