FEATURED

V&A met Michael Rhodes

PUBLISHED: August 18, 2013


Michael Rhodes wil in die Absa Curriebeker-reeks vir verlore tyd vergoed nadat hy in die Vodacom Super-reeks etlike weke langs die kantlyn moes spandeer met beserings.

Ons het min van jou gesien vanjaar. Die beserings was seker 'n frustrasie nadat jy die skuif van die Leeus af gemaak het.
“Ja, ek het in 'n opwarmwedstryd in die voorseison 'n dyspier geskeur en dit het my aanvanklik langs die kantlyn gehou. Ek dink ek het met my terugkeer vier goeie wedstryde vir die Stormers gespeel en dit was frustrerend om toe in Wellington teen die Hurricanes beseer te raak. Die snaakse ding is dat dit nie eers in 'n kontaksituasie in die spel was nie. Dit was iemand wat op my enkel geval het.”

Jy moet egter tevrede voel dat jy in die bietjie speelkans wat jy gehad het 'n blik kon gee op die positiewe bydrae wat jy kan lewer.
“Ek was tevrede en het selfvertroue daaruit geput, maar dis 'n frustrasie om nie 'n volle seisoen te kan speel nie. Ek is ambisieus en wil my in die span vestig. Ek wil ook die afrigtingspan terugbetaal vir hul geloof in my.”

Jy was vroeër vanjaar op DHL-Nuweland die Speler van die Wedstryd in die Stormers se wedstryd teen die Haaie. Was jy hoogs gemotiveerd omdat jy voorheen vir die Haaie gespeel het?
“Dis asof dinge net so uitwerk! Ek berei nie anders voor nie, maar het selfs toe ek vir die Leeus gespeel goed gevaar teen die Haaie. Ek was teen die tyd wat die wedstryd teen die Haaie aangebreek het baie honger om te speel en wou vir myself 'n standaard stel.”

Waar kom Michael Rhodes vandaan?
“Ek is oorspronklik van Durban en het meeste van my lewe tot dusver daar deurgebring. Selfs toe my ouers Mpumalanga toe getrek het, het ek agter gebly om op Michaelhouse skool te gaan.
Hoe het jou provinsiale loopbaan verloop Ek het begin by die Haaie en ná net oor die 20 Curriebeker-wedstryde vir die Leeus geteken. Daar het ek kans gekry om Super-rugby te speel. Ek het altyd gesê dat ek graag WP toe sal wil gaan as ek weer 'n skuif maak.”

Dis seker lekker om hier die ervaring te hê om in 'n vol stadion te speel.
“Ja, die Stormers is vir etlike jare nou al die span wat die meeste ondersteuners lok in Super-rugby. Daar is soveel geskiedenis aan DHL-Nuweland gekoppel en dis baie spesiaal om daar te kan speel. Dis die mees lojale en fanatiese ondersteuners voor wie ek al gespeel het.”

Jy en Pat Cilliers stap glo al 'n lang pad saam.
“Ons het op skool ontmoet en het saam in die O13-, O16- en O18-skoleweke gespeel. Die pad het by die Haaie begin en dit het vir ons albei sin gemaak om Leeus toe te skuif ter wille van speelkans. Soos ek was hy ook baie bly oor die geleentheid om Kaap toe te kan kom. Dis asof ons mekaar oral heen volg en dis onafwendbaar dat jy in só 'n situasie beste maats sal raak!”

Hoe ervaar jy die WP-opset?
“Die Sentrum vir Uitnemendheid in Bellville is fantasties en die opset is professioneel. Ek geniet ook die afrigtingspan en kom maklik oor die weg met my spanmaats. Dis ook baie lekker om in die Kaap te bly.”

Is jou fisieke benadering die uitstaande kenmerk van jou spel?
“Ek put trots daaruit om fisiek te wees, maar is ook 'n baldraer en hou daarvan om tussen die voor- en agterspelers te skakel. Ek is nie jou stereotipe steelkantflank wat slegs die bal opdra nie.”

Is dit moeilik met soveel losvoorspelers van gehalte in die Kaap?
“Daar is baie mededinging, maar dit hou jou skerp. Ek het ook nie die kompetisie in gedagte gehou toe ek besluit het om Kaap toe te kom nie. Jy hoort nie daar as jy jouself nie goed genoeg ag nie.”

Wat was tot dusver die beste deel van jou ervaring by die WP?
“Die wedstryd teen die Haaie op Nuweland was my hoogtepunt. Die stadion was volgepak en ek het goed gespeel.”

Wie is die snaaksste ou in die span?
“Jean de Villiers is 'n snaakse ou en ons lag ook baie vir De Kock Steenkamp.”

Het jy belangstellinge buite rugby?
“Ek stel belang in ou motors en het 'n Mustang wat uit 1965 dateer. Ek oorweeg om 'n kwalifikasie in Belegging en Finansiële Beplanning na te streef.”

Hoe ontspan jy?
“Ek gaan in die somer dikwels strand toe en verken die wynlande. Ek hou ook daarvan om saam met pelle ietsie te gaan eet en drink … en 'n bietjie twak te praat!”

DHL Western Province Matchday Magazine