Senter Juan de Jongh sien uit na die uitdaging om vir die DHL Westelike Provinsie voor te draf in vanjaar se Absa Curriebeker-reeks.
Hoe voel jy oor die voorreg om die DHL WP in vanjaar se Curriebeker-reeks aan te voer?
“Dis vir my ’n baie opwindende tyd. Ek is nou al vyf jaar in die senior opset en is baie opgewonde oor die nuwe rol. Die span het ’n goeie mengsel van ervare en opwindende jong spelers, wat dit ’n lekker taak maak. Ek weet ek kan staatmaak op ondersteuning van die senior spelers, afrigters en jong manne. Dis gaan ’n gesamentlike poging van almal verg om sukses te behaal.”
Het jou aanstelling as DHL WP-kaptein dit makliker gemaak om die teleurstelling te verwerk dat jy nie die Springbok-groep gehaal het nie?
“Nee, ek het doelwitte en dis ’n moeilike pil om te sluk as ’n mens dit soms nie bereik nie. Ek is egter nie ’n ou wat te lank met dinge worstel nie. Hopelik sal die Man van Bo vir my in die toekoms deure oopmaak.”
Gaan dit vreemd voel sonder Gio Aplon as spanmaat?
“Ons is baie goeie vriende, maar hy sien nou sy toekoms in Frankryk. My fokus is by die span. Ons het ’n goeie spankultuur en daar is ’n hegte band tussen ons. Hopelik sal die goeie balans in die span ons help om ’n suksesvolle seisoen te hê.”
Dink jy die WP het ’n spesiale speler in Seabelo Senatla bygekry?
“Ja, absoluut. Hy het baie goed gedoen vir die Springbok-sewesspan. Dis belangrik om vir hom genoeg balbesit in spasie te gee sodat ons die meeste van sy talent kan maak. Hy is een van die vinnigste ouens in die span. Dis baie lekker om hom in die opset te hê.”
Dink jy Cheslin Kolbe gaan selfs gevaarliker as verlede jaar wees?
“Dis belangrik vir ons almal om te verbeter op verlede jaar. Hopelik kan almal net hul kant bring sodat ons ’n goeie seisoen kan beleef.”
Wat het julle uit die Vodacom Super-reeks geleer wat in jul Curriebeker-veldtog toegepas kan word?
“Ons het baie as ’n span geleer en die uitdagings het die broerskap tussen ons versterk. Ons moet nou hard werk om seker te maak dat ons die Curriebeker-reeks sterk begin en konstant goeie rugby speel. Dis waar ons in die Super-reeks tekort geskiet het.”
Was dit lekker om te sien hoe die jong manne onder druk hul hande opgesteek het in die Super-reeks?
“Ja, dit was. Ons het baie beserings gehad en ons veldtog was gevolglik baie taai, maar ons wil dit nie as verskoning gebruik nie. Daar is baie talent en die volgende ou wat deurkom, ongeag hoe oud hy is, móét sy stempel afdruk. Dis vir almal ’n groot geleentheid en eer om die trui te dra. Dis ’n kans om jou droom uit te leef. Die jong manne het puik ervaring opgedoen en hopelik sal dit ons in die Curriebeker-reeks tot voordeel strek.”
Jou puik drie was die keerpunt in 2012 se Curriebeker-eindstryd teen die Haaie. Is die vreugde van daardie dag nog vars in jou geheue?
“Ja, dit was ’n goeie dag vir DHL WP en ’n herinnering wat ons sal bybly. Dis egter in die verlede en ons wil seker maak dat dit vanjaar goed gaan.”
Hoe belangrik is die Curriebeker-reeks nog vir die spelers?
“Dis ’n toernooi met groot status in Suid-Afrika en bied aan spelers die kans om verder te ontwikkel. Daar is baie opwinding wanneer die Curriebeker in die WP se trofeekas staan. Dis iets wat ons baie graag wil bereik.”
Hoe ervaar jy die insette van Gert Smal (direkteur van rugby), Henning Gericke (sielkundige) en Vlok Cilliers (skopafrigter)?
“Hulle het ’n baie groot impak gemaak. Ons het reeds baie by hulle geleer en is opgewonde om hulle hier te hê. Hulle het positiwiteit gebring en skaafwerk gedoen wat ons as spelers verbeter het. Hopelik sal die spelers nou die werk insit om sukses te behaal.”
Het jy persoonlike doelwitte gestel vir vanjaar se Curriebeker-reeks?
“Ja, ek het persoonlike doelwitte, maar dra dit nie op my mou nie. Ek wil eenvoudig seker maak dat ek as speler verbeter om daardie doelwitte te kan bereik.”
Jy het in die Super-reeks weereens gewys hoe veelsydig jy is. Gee jy om of jy binne- of buitesenter speel?
“Dit hang af van waar die span my nodig het. Ek is gemaklik in albei posisies en sal, ongegag waar ek speel, my alles gee.”