FEATURED

V&A met Damian de Allende

PUBLISHED: September 23, 2013


Hy het nie eers Cravenweek-rugby gespeel nie, maar die DHL-Westelike Provinsie en Stormers se truie is nommerpas vir Damian de Allende

Jy het nie die normale pad deur ‘n tradisionele rugbyskool en die Cravenweek gestap nie. Vertel vir ons hoe jy ‘n WP-speler geword het.
“Ek het Cravenweek-proewe toe gegaan, maar dit nie gemaak nie. Daarna is ek WP Onder-19 proewe toe en is ek dáár raakgesien. Dis moeilik vir iemand buite ‘n tradisionele rugbyskool om die Cravenweek-groep te maak, maar ek het altyd die droom gehad om beroepsport te speel en dit was net ‘n geval van hard werk om daardie doelwit te bereik.”

Hoe is die rugbykultuur by die Hoërskool Milnerton?
“Die rugbyopset daar is baie goed. Hein Kriek het daar afgerig en Heinrich Martin is nou aan die stuur. Albei het baie vir my beteken.”

Waar het jy groot geword?
“Ons het in Summer Greens naby Canal Walk gebly en Milnerton toe getrek toe ek in Graad 5 was.”

Hoe het jy die bynaam, Doogz, gekry?
“My ma het my dit genoem toe ek ‘n baba was. ‘n Vriendin het aangehou om my Doogz te noem toe ons saam hoërskool toe is en dit het daar vasgehak.”

Was jy nog altyd ‘n senter?
“Ek het meestal vleuel gespeel voordat ek verlede jaar senter toe geskuif is.”

Wanneer het jy begin rugby speel?
“Ek was eers 13 toe ek begin het. Ek het op laerskool sokker gespeel en my pelle het my toe oortuig om rugby te probeer.”

Dit moet ongelooflik wees om skielik ‘n deurbraak in senior rugby te maak en saam met ouens van Jean de Villiers se profiel te speel.
“Dit was aanvanklik intimiderend, maar ek het ná ‘n paar wedstryde my voete gevind. Die senior spelers het my welkom laat voel en dáárom was dit maklik om aan te pas.”

Het jy baie by Jean en Juan de Jongh geleer?
“Ek leer weekliks iets wanneer hulle daar is. Juan het vir my gesê dat ek nooit moet ophou om op die speelveld te kommunikeer nie. Hulle moedig my ook aan om myself te geniet. Albei van hulle speel na die beste van hul vermoë, maar geniet dit terselfdertyd en daaruit kan ‘n mens baie leer.”

Was jy senuweeagtig toe jy onverwags op binnesenter gekies is vir verlede jaar se Absa Curriebeker-eindstryd?
“Nee, nie regtig nie. Ek weet nie waarom nie! Ek was nie oorweldig nie en het dit as ‘n geleentheid beskou.”

Jy is gelukkig om die Curriebeker in jou eerste jaar op daardie vlak te wen! Jean moet seker jaloers wees!
“Ja, nie baie spelers het daardie voorreg nie. Ek is seker Jean se tyd sal kom!”

Jy is ‘n fisieke speler, maar elke nou en dan sien ons ook ‘n mooi aangee. Wat is die uitstaande kenmerk van jou spel?
“Ek is in die Vodacom Super-reeks fisiek aangewend, maar ons het in die Curriebeker-reeks ‘n bietjie daarvan wegbeweeg. Ek wil steeds die bal dra, maar ook skeppend wees. Ek was nooit op skool ‘n speler wat op kontak gefokus het nie, want daar was nie baie groot ouens in ons span nie. Ons moes meer op vaardighede as krag staatmaak.”

Alan Zondagh, wie jou by sy Rugby Performance Centre afgerig het, het al genoem dat jy óók ‘n goeie skopvoet het.
“Ja, ek kan skop en het op skool pale toe geskop, maar ek fokus nie nou daarop nie.”

Was dit vir jou ‘n maklike besluit om ‘n nuwe kontrak met die WP te sluit?
“Ja, ek sou nie enige aanbieding van elders eers oorweeg het nie. Ek is baie gelukkig hier en glimlag elke keer wanneer ek saam met Jean of Juan speel.”

Is daar spesifieke afrigters wat ‘n groot rol in jou vormingsjare gespeel het?
“Hein Kriek en Heinrich Martin het my baie gehelp en my vaardigheidsvlakke opgeskerp. Ek sou nie sonder hulle hier gewees het nie.”

Het jy as seun ‘n rolmodel gehad?
“Ja, Gio Aplon. Dis steeds die geval nou dat ek saam met hom speel.”

Wat doen jy om te ontspan?
“Ek geniet dit om rustig te wees, te braai of ‘n bietjie langs die see ‘n biertjie te drink. Ek speel nou en dan ook rekenaarspeletjies net om af te skakel.”

Het jou lewe verander met die skielike roem wat jy gekry het?
“Ja, ‘n bietjie, maar ek is ‘n baie ontspanne ou en voel nie oorweldig daardeur nie.”

DHL Western Province Matchday Magazine