FEATURED

V&A: Dodelike Dillyn

PUBLISHED: September 18, 2015


Daar is min spelers in vanjaar se Absa Curriebeker-reeks wat die verbeelding kan aangryp soos Dillyn Leyds.

Hy is die spreekwoordelike spelbreker met die vermoë om iets uit niks op te tower. Dít het hy onlangs wéér gewys deur met die teenaanval te begin wat vir die DHL-Westelike Provinsie ’n kosbare drie teen Griekwas op DHL-Nuweland opgelewer het.

Leyds was in 2012 in die SA o20-span wat die Junior Wêreldkampioenskap met ’n sege oor Nieu-Seeland gewen het en het die jaar daarna veral vir die DHL-WP se o21-span in die opmars na die provinsiale titel geskitter.

Verlede seisoen was Leyds by die Western Force in Perth, maar hy het terug gekeer Kaap toe en twee wedstryde in die DHL-WP se Curriebeker-veldtog gespeel.

Leyds, op sy gemaklikste as heelagter, is vanjaar noodgedwonge as vleuel deur die DHL-Stormers gekies en was hul voorste driedukker met 6 in die Vodacom Superrugby-reeks. Hy het sy goeie spelpeil in ’n WP-trui vootgesit.

Hoe voel jy oor hoe jou loopbaan by die DHL-WP vorder sedert jou terugkeer uit Australië?
“Dit was altyd my droom om vir die DHL-Stormers en DHL-WP te speel, so ek kan beslis nie kla oor hoe dit nou met my gaan nie. Die seisoen in Perth was goed vir my, maar dit was beslis die regte besluit om terug te keer Kaap toe.”

Kon jy jou voor die aanvang van die Vodacom Super-reeks indink dat jy soveel speelkans vir die DHL-Stormers sou kry en boonop as hul voorste driedrukker sou eindig?
“Nee, beslis nie. Ek was in my noppies daarmee dat ek uit die staanspoor gekies is en gereeld kon speel. Dit was meer as wat ek verwag het, want daar was spelers met meer ervaring in die groep. My aanvanklike plan was om soveel as moontlik te leer en die beste te maak van enige geleentheid wat oor my pad kom.”

Jy is mos eintlik ’n heelagter-losskakel. Was dit moeilik om vanjaar op die vleuel aan te pas?
“Aanvanklik ja, maar ek het ná ’n paar wedstryde aangepas en ek is die vryheid gegun om myself in posisies te kry waar ek betrokke kon raak.”

Wat beskou jy as jou hoogtepunt tot dusver vanjaar?
“Ek het die DHL-Stormers se wedstryde teen die Waratahs in Sydney en die Hurricanes in Wellington die meeste geniet. Selfs al het ons in Wellington verloor, het ons ons beste rugby van die seisoen in die tweede helfte gespeel.”

John Dobson, die DHL-WP se breier, oorweeg om jou op ’n kol as losskakel in te span. Hoe voel jy daaroor?
“Ek sal dit graag wil doen en dink ek sal ’n verskil kan maak in die nr.10-trui. My prioriteit is egter om eenvoudig net elke week die beginspan te haal. Ek glo ek sal gemaklik wees op losskakel en in enige posisie in die agterste driehoek. Solank as wat ek die span haal maak dit egter nie vir my saak in watter posisie ek speel nie.”

Hoe sien jy geleenthede raak soos die een teen Griekwas op DHL-Nuweland toe jy ’n tikskoppie geneem het om ’n teenaanval te loods vir die DHL-WP se bonuspuntdrie?
“Dis nie soseer ’n kwessie dat ek dit raakgesien het nie. Griekwas het vir ’n rukkie aangeval en ek het besef dat hulle moeg sou wees. Ek was toe nog nie lank op die veld nie. Hulle kon nie ons verdedigings-linie klop nie en het uiteindelik probeer om met ’n kort skoppie agter ons in die kwartgebied te kom. Die oomblik wat ek die bal gevang het, het ek gesien dat die ou voor my pootuit was en het ek die tikskoppie geneem om aan te val.”

Jy is seker opgewonde oor die moontlikhede wat jou kombinasie met Cheslin Kolbe en Seabelo Senatla in die agterste driehoek kan bied.
“Ja, dis ongelooflik om met sulke ouens te speel. Hulle het op sewesvlak óók al baie bereik. Ons is baie op die aanval ingestel, maar het nog nie tot ons volle potensiaal gespeel nie.”

Word jy nog oor jou danspassies op Loftus geterg?
“Ja, elke dag deur my spanmaats! Ek het vir hulle gesê daar gaan nóg ’n paar wees, maar sal wag tot ons seker is van die wen voor ek laat waai!”

Hoe ervaar jy vir John Dobon en Dawie Snyman as afrigters?
“Ek stap al ’n pad saam met hulle sedert o21-vlak. Die nederlae teen die Blou Bulle en Vrystaat-Cheetahs het hulle onder druk geplaas, maar Dobbo en Dawie is besonder goeie afrigters. Hulle is ervare genoeg om te weet hoe om ’n span weer op die wenpad te kry.”

Wat maak hierdie DHL-WP span spesiaal?
“Ons is ’n klomp jong ouens wat daarop uit is om onsself te geniet. Ek is pas 23 en een van die ouer manne in die agterlyn! Ons wil vir Suid-Afrika wys van watter stoffasie ons gemaak is.”

DHL Western Province Matchday Magazine