FEATURED

Scarra: Terug met mening

PUBLISHED: October 14, 2014


Scarra Ntubeni se terugkeer het vir die DHL-Westelike Provinsie op net die regte tyd in vanjaar se Absa Curriebeker-reeks ‘n waardevolle hupstoot gegee.

Die haker-buksie het tot en met sy terugkeer as plaasvervanger teen die Leeus in Johannesburg verlede maand laas op 10 Mei teen die Bulle in die Vodacom Super-reeks gespeel.

Toe het hy ‘n beentjie in sy voet gebreek. Daarna het hy tydens sy rehabilitasie ‘n kuitbesering opgedoen wat hom tot in September platgetrek het. Wat die frustrasie soveel erger maak, is dat die wedstryd teen die Bulle maar net sy tweede terug was nadat hy op 8 Maart teen die Crusaders in Christchurch ‘n kuitspier geskeur het.

“Dit het baie lank gevoel. Ek moes vir ‘n rukkie langer rus omdat die moontlikheid daar was dat ek die kuitspier vir ‘n derde keer sou skeur,” het Ntubeni gesê.

“Dis egter heerlik om terug te wees. Ek voel byna 100% fiks en het nou al vier wedstryde op ‘n streep gespeel.”

Ntubeni het tot baie diep in ondersteuners van die DHL-WP se harte ingekruip. Hy is ‘n woelwater op die veld en ‘n wonderlike, plat-op-die-aarde karakter daarvan af.

Sy kombinasie van goeie skrumwerk, balvaardigheid, akkurate ingooie by die lynstane en ‘n hoë werkverrigting is vir die WP uiters waardevol.

Dit was welverdiend toe hy in November verlede jaar die Springbokke se jaareind-toer meegemaak het, maar dis nou voor op sy agenda om die WP te help om die Curriebeker terug Kaap toe te bring.

“Ek wil die jaar sterk afsluit. Hopelik kan ons die Curriebeker weer wen. Dís my groot doelwit vir dié jaar,” het hy gesê.

As Ntubeni kan deurdruk sonder om deur beserings gekortwiek te word, is dit nie buite die kwessie dat hy in November met die Bokke kan toer nie. Gaaf, hy gaan nie in die korttermyn vir Bismarck du Plessis of Adriaan Strauss uit die kussings lig nie, maar op die ouderdom van 23 het hy tyd aan sy kant.

“Ek het nog nie veel gaan sit en dink oor die volgende fase van my loopbaan nie. Die tyd langs die kantlyn het my ‘n geleentheid gegee om ‘n bietjie op ander dinge te fokus. Dit was heerlik om my familie meer dikwels te kan sien.

“Nou wil ek egter top-fiks raak en my alles gee om die Curriebeker te wen,” het Ntubeni gesê.

Is die Bokke nie in sy agterkop nie?

“Ja, dis in my gedagtes, maar as jy bloot om sulke redes begin speel raak jy die pad byster en plaas jy te veel druk op jouself,” het hy gesê.

“In my ervaring is daar ‘n negatiewe uitwerking op my spelpeil wanneer ek daardie tipe druk op myself plaas. Die les wat ek geleer het is om eenvoudig net in elke wedstryd my bes te lewer. As ek dit goed genoeg doen sal die beloning vanself kom.”

Ntubeni het bygevoeg dat dit ‘baie stresvol’ was om meeste van die seisoen van die kantlyn af te kyk.

‘Dit was moeilik om te kyk hoe die ouens speel. Ek het byna die hele Super-reeks misgeloop terwyl ons gesukkel het. Nou vaar ons baie goed in die Curriebeker-reeks. ‘n Mens wil onder alle omstandighede ‘n bydrae lewer en saam met jou spanmaats wees,” het hy gesê.

Die WP se meer aanvallende speelstyl is vir Ntubeni ‘n riem onder die hart.

“Ons het vryheid om onsself uit te leef en daar is só ‘n goeie gees onder ons,” het hy gesê.

“Daar is ook lekker onderlinge kompetisie. Elke ou wil hê die statistieke moet wys dat hy die meeste duikslae gemaak en die hardste gewerk het. Ons spoor mekaar tot groter hoogtes aan.”

Terwyl hy al hoe meer na sy ou self lyk, glo Ntubeni sy fiksheid kan nog opgeskerp word.

“My werkverrigting was nie heeltemal op standaard in die wedstryde op die Hoëveld nie, maar daardie fiksheid sal kom namate ek meer speel,” het hy gesê.

Die een ding wat Ntubeni as toeskouer geniet het was om te sien hoe ‘n nuwe generasie jong spelers hul hande opsteek.

“Ek dink al die beserings in die Super-reeks was op ‘n vreemde manier ‘n bedekte seën, want ouens soos Ruan Botha en Jean Kleyn het hul deurbraak op ‘n hoë vlak gemaak en kon daardie ervaring na die Curriebeker-reeks oordra,” het Ntubeni gesê.

“Daar is ook ouens soos Alistair Vermaak, Oliver Kebble en Cheslin Kolbe wat waardevolle ervaring opgedoen het. Dit lewer nou ‘n goeie dividend in die Curriebeker-reeks.”

uScarra uvuselela iWestern Province

Ukubuya kuka Siyabonga ‘Scarra’ ngokwenene kuze namandla amatsha eqeleni leWestern Province. Amoya amatsha adingekayo nyani ke kuba besiya kkwimidlalo yokugqibela yeAbsa Currie Cup.

Ukubuya kwakhe ke uScarra ubuye sele ebizwa oyena mdlali ubalaseleyo, wavuselela necala lakhe ngokubuyisa lamandla abaphumelelisa I Currie Cup kwiminya emibini edlulileyo.

Ibinguye ke noobhuti bakhe kwimigca yeWestern Province abalungise izinto besenzela iqela labo kolona khuphiswano ludala kumbhoxo wasekhaya.

Into encinanana ethanda umdlalo efuna nokuzibonakalisa kwiintshaba, uScarra ngoyena mntu unokujika amashwa akulonyaka uphelileyo xana iWestern Province ibethwa kumdlalo omnye nje wokugqibela. Kungafaneleka ke ukuba sithi siyabonga Scarra.

DHL Western Province Matchday Magazine