Louis Schreuder kry in vanjaar se Absa Curriebeker-reeks die kans om hom as senior skrumskakel te vestig én sy stempel as leier af te druk.
Daar is min spelers wat soveel WP-bloed in hul are het as Louis Schreuder. Hy het op Paarl Gimnasium skool gegaan en het die WP al in 2006 op O.16-vlak begin verteenwoordig.
professional writing service
G'n wonder dan nie dat dit vir hom geweldig baie beteken het toe die DHL-WP se afrigter, Allister Coetzee, hom vanjaar met die rol van onderkaptein toevertrou het. Die geleentheid is ook nou daar om sy stempel as senior skrumskakel in die Kaap af te druk.
“My fokus is ten volle by die verdediging van die Curriebeker en ek is baie dankbaar vir die leiersrol wat ek gekry het. Ek hoop om dit ten volle te benut en vir ons kaptein, Deon Fourie, so goed as moontlik te ondersteun,” sê Louis.
Dis nie vir hom 'n nuwe ervaring nie. Hy was op O.18-vlak Cravenweek-kaptein, en het die WP se O.19- en O.21-spanne óók aangevoer. Boonop het hy vroeër in sy loopbaan ook die rol van onderkaptein van die SA O.20-span vervul.
Nietemin is leierskap slegs 'n moontlikheid as hy hom in die span kan vestig en dís waar Louis se fokus lê. Dis veral vir hom 'n groot geleentheid nou dat die ervare Dewaldt Duvenage besluit het om die WP vir die Franse klub Perpignan te verruil.
“Ek het as kind altyd die WP ondersteun en dit was van kleins af 'n groot droom om die Streeptrui oor my kop te trek. Nou dat ek dit bereik het, is die doelwit om soveel as moontlik te kan bydra sodat ons die ondersteuners tevrede kan stel,” sê hy.
“Dis vir my 'n groot voorreg om vir só 'n trotse unie met 'n roemryke tradisie te kan speel.”
Die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, het dit al duidelik gestel dat hy vir Louis hoog aanslaan. Hy is vroeër vanjaar genooi om in die Moederstad saam met die Bokke te oefen en is in Junie amptelik na die Springbok-groep ontbied as plaasvervanger vir die beseerde Francois Hougaard.
“Dit het as 'n groot verrassing gekom,” erken Louis. “Daar was natuurlik 'n paar beserings wat dit moontlik gemaak het, maar ek is bly oor die geleentheid en ervaring wat ek in die proses kon opdoen. Dit was 'n besonderse ervaring om net betrokke te kon wees en saam te kon oefen.
“As jy eers daar is, besef jy dat dit baie harde werk gaan verg om bo uit te kom. Heyneke het al op vroeër Bok-kampe met my gesels. Ek weet waar ek inpas, wat ek moet doen en wat die plan vir my is.”
Dis egter die WP se plan waarop sy aandag nou ten volle gevestig is.
Terwyl die Super-reeks nie volgens plan verloop het vir die DHL-Stormers nie, kon Louis positiewe ervaringe daaruit haal. Die Stormers het hul laaste vyf wedstryde gewen en hy was in elkeen in die beginspan.
Louis en Nic Groom spook dit nou uit vir die Nr.9-trui, maar daar is 'n groter prentjie as bloot wie die senior skrumskakel gaan wees. Hulle speelstyle verskil en Coetzee kan sy spankeuses strategies aanpas, afhangend van wie se sterkpunte die beste geskik sal wees vir 'n spesifieke teenstander.
“Een van my sterkpunte is my diens en ek fokus die laaste paar maande baie op my spoed na die afbreekpunte,” sê Louis. “My aangee was in 'n tydstip nie so goed nie, maar dis nou weer op dreef. Ek het ook my taktiese skopwerk opgeknap.”
Hy het verlede jaar vlugtig ook die oog as losskakel gevang toe hy die posisionele skuif in wedstryde moes maak.
“My pa (Bertie) het in vroeër jare vir die Boland losskakel gespeel. Ek het 'n bietjie losskakel-bloed en sal nooit daarvoor 'nee' sê nie,” vertel Louis.
“My fokus is egter op skrumskakel. Ons is as unie groot genoeg om spesialiste in posisies te kan kry en hulle sal baie meer ervare as ek wees.
“Ek sal nietemin in die toekoms graag gesien wil word as 'n speler wat in albei posisies kan speel.”
Intussen is die verdediging van die Curriebeker hoog op die agenda. Louis is in verlede jaar se eindstryd as plaasvervanger vir Groom opgestuur.
“Dit was baie spesiaal om net daarvan deel te kon wees en die Curriebeker die eerste keer in 11 jaar vir ons ondersteuners te wen,” sê hy. “Ons sal elke week vir elke minuut baklei om die beker in die Kaap te hou.”
DHL Western Province Matchday Magazine