FEATURED

Harris kan nie wag nie

PUBLISHED: August 15, 2013


Brok Harris kan nie wag nie om Saterdag die eerste DHL-WP speler uit die tonnel te wees in die Absa Curriebeker-wedstryd teen die Cheetahs op DHL Nuweland (afskop 19:15).

“Dit gaan super wees,” het die staatmaker-stut voor Saterdag se stryd gesê.

“Elke klein seun droom daarvan om Curriebeker- en Super-rugby te speel. Om my 100ste wedstryd te speel gaan baie spesiaal wees. Ek is bevoorreg om dit op Nuweland te kan doen.

“Dit het my eintlik bekruip, want ek het nie besef ek trek al by 100 nie. Ek sien baie uit na dié wedstryd en hoop ons kan hom deurtrek.”

Brok en die res van die agttal is ook oorgehaal om goeie rekenskap van hulself in die skrums te gee. Die DHL-Stormers het goed geskrum in die laaste handjievol wedstryde in die 2013 Super-reeks, maar die uitdaging is om nou by die nuwe bindreëls aan te pas in die Curriebeker.

“Ek sal nie sê dis moeilik nie. Dis net ‘n aanpassing met die bind en dit gaan een of twee wedstryde neem om daaraan gewoond te raak,” het hy gesê.

“Ons het verlede week ‘n bietjie gesukkel, maar dié week moet ons net na ons sisteme terugkeer. Ons het hard gewerk en is positief oor dié naweek.”

KLIEK HIER vir kaartjies vir Saterdag!