FEATURED

Ervare De Kock is reg!

PUBLISHED: September 12, 2013


De Kock Steenkamp meen sy ervaring van leierskap in die lynstane het hom goed toegerus vir die verantwoordelikheid van kapteinskap in Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd teen die Blou Bulle op Loftus.

“As jy ‘n nr.5-slot is, móét jy in elk geval verantwoordelikheid in die lynstane kan neem,” het De Kock gesê.

“Ek geniet dié verantwoordelikheid en daar is goeie leiers wat my as kaptein sal ondersteun.”

Hier verwys De Kock veral na die

heelagter Gio Aplon, die buitesenter Juan de Jongh, die skrumskakel Louis Schreuder, die flank Rynhardt Elstadt en die vaskopstut Pat Cilliers.

De Kock besef ook dat dit ‘n yslike stryd teen die Bulle in die lynstane gaan wees.

“Daar is ‘n groot fokus op lynstane teen die Bulle – op jou eie bal en die mededinging op mekaar s’n. Ons het die afgelope week baie tyd daaraan spandeer en sal nóg tyd by ons kapteinsoefening insit.”