FEATURED

Elstadt kan nie wag nie

PUBLISHED: October 3, 2014


Rynhardt Elstadt kan nie wag om Saterdag weer vir die DHL-Westelike Provinsie uit te draf nie nou dat sy skorsing uitgedien is.

Die DHL-WP se breier, Allister Coetzee, het hom as nr.4-slot in die beseerde Jean Kleyn se plek gekies vir die Absa Curriebeker-wedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein (afskop 14:00).

“Dis lekker om terug te wees. Ek vat die skorsing op die ken. Dis maar een van daardie dinge,” het Elstadt gesê aan wprugby.com.

Elstadt sal getaak wees om die vuur in die DHL-WP se enjin te stook, maar het die versekering gegee dat hy versigter sal wees om nie weer in die sop te beland nie. Hy het pas ’n skorsing van drie weke uitgedien nadat hy in die WP se tuiswedstryd teen die OP-Kings gevaarlik by ’n losskrum ingestorm het.

“Ek sal ’n bietjie moet kyk na daardie dinge, want ek gaan dopgehou word. Ek probeer meer volwasse raak in my rugby. Ek wil my ook in ander posisies bevind, eerder as om net losskrums te wil skoonmaak en te duik,” het hy gesê.

Elstadt se slotmaat vandeesweek is die Argentyn Manuel Carizza, wat terug is in die beginspan weens ’n besering aan Ruan Botha.

Ofskoon dit ontwrigtend was vir die WP om albei hul slotte te verloor, glo Elstadt nie die lynstane gaan ’n probleem wees met hom en Carizza nie.

“Ons het baie selfvertroue in ons lynstane en hopelik dra ons dit deur na hierdie naweek,” het hy gesê.