FEATURED

Deon stel sterk voorbeeld

PUBLISHED: October 7, 2013


Daar is meer dinge as balle jag wat die DHL-Westelike Provinsie se kaptein, Deon Fourie, na aan die hart lê.

“Ek is nie werklik ‘n groot gholf speler nie,” sê Fourie wanneer jy hom pols oor waarmee hy hom van die rugbyveld af besig hou.

Dít alleen is ongewoon vir ‘n rugby speler, maar dan weer is Fourie geen gewone speler nie. Hy is ‘n agtsteman, haker én flank, afhangend van wat sy afrigter, Allister Coetzee, op ‘n bepaalde naweek benodig.

Fourie is egter nou verby die stadium waar hy hoef te antwoord oor watter posisie hy verkies om te speel.

Statistieke uit die Vodacom Super-reeks dui dat hy onder die Suidelike Halfrond se voorste baljagterflanke tel en dís ook die posisie waar Coetzee meen hy die potensiaal het om ‘n Springbok te word.

Klaar gepraat oor ‘n debat wat ondersteuners van die DHL-WP al baie gevoer het!

Wat sy belangstellinge buite baljag betref, het Fourie in Junie vanjaar saam met spanmaat Joe Pietersen ‘n perd opgesaal ter ondersteuning van ‘n inisiatief om renosterstropery teen te werk.

Sy belangstelling is geprikkel tydens ‘n besoek aan sy suster in Hoedspruit.

“Die Bosveld is in my bloed,” sê hy. “Ek sal graag ná rugby daarheen wil terugkeer. Mense in die Kaap besef nie hoe mooi die Laeveld is nie.”

Maar van terugkeer en ‘n stokperdie van wildfotografie nastreef is daar nog lank nie sprake nie. Hy het verlede Woensdag sy 27ste verjaarsdag gevier en kan die WP vir lank nog dien.

Sy doelwit by die WP vir die res van vanjaar is eenvoudig.

“Ek het aspirasies om wéér die Curriebeker te wen. Ek dink nie baie WP-kapteine het dit al reggekry om dit meer as een keer te doen nie,” sê Fourie.

“Dit gaan goet met my sedert verlede jaar se Curriebeker-eindstryd. Ek is ‘n bietjie losser op die flank en ons het ‘n baie lekker groep spelers.”

Die kapteinskap weeg ook nie swaar op sy skouers nie.

“Ek was dwarsdeur my hoërskool-loopbaan kaptein en my pa was die Blou Bulle se Cravenweek-kaptein. ‘n Mens kan dus sê dis in die bloed!”

Sy taak as leier strek natuurlik verder as om net voor te draf en instruksies te gee. In sy eie woorde moet hy jong spelers laat besef dat hulle ‘n rugbyunie wat goed oor ‘n eeu oud is verteenwoordig.

Die tradisie in Kaapse rugby eis sukses – die Westelike Provinsie het deur die jare immers die Curriebeker meer as enige ander unie gewen.

‘n Mens wil jou verstout om te sê dat die kanse skaflik lyk dat Fourie en kie die beker in die Kaap gaan hou.

Terwyl die Stormers nie ‘n suksesvolle veldtog in die Vodacom Super-reeks beleef het nie, het hulle op DHL Nuweland slegs een wedstryd – teen die Crusaders – verloor.

Die Stormers se rekord op Nuweland vanjaar was sewe seges in agt wedstryde en die WP trek by vier uit vier. Dis ‘n rekord van 11/12, wat ‘n besoek aan Nuweland duidelik vir teenstanders ‘n intimiderende affêre maak. Daar ontbreek ook nie selfvertroue in die groep nie.

“Die wen van die laaste vyf wedstryde in die Super-reeks het die span baie goed gedoen. Die WP-groep ontbreek ook nie aan selfvertroue nie,” sê Fourie.

“Ons was nooit ver van ‘n wenresep af nie. Dis net volwassenheid wat ingetree het en die uitkoms van almal wat hul taak akkuraat uitgevoer het.”

Die WP se aanvallende spel het duidelik ook met rasse skrede verbeter. Almal ken die kultuur van verdediging in die Kaap – wen is immers die beste vermaak – maar daar is ruiterlik erken dat meer vrae met die bal in die hand gestel moet word.

Soms staar die media en ondersteuners hulle blind aan die kwessie van ‘vier drieë’, wat natuurlik ‘n bonuspunt in die sak bring.

Die WP sou dit heel moontlik teen die Blou Bulle op Loftus kon vermag het as hy nie met 14 man moes speel nie, terwyl die onlangse stryd teen Griekwas hier in nat toestande beslis is.

Een ding staan soos ‘n paal bo water uit: die WP se toewyding om in vanjaar se Curriebeker-reeks dinge met die bal in die hand te laat wil gebeur.

“Ons is nog nie 100% daar met ons aanval nie, maar dis soos Allister dikwels sê ‘n kwessie van die kameel se rug breek. As ons eers die hoogste rat op die aanval bereik, sal dit die selfvertroue ‘n groot hupstoot gee.”

DHL Western Province Matchday Magazine