Nizaam Carr wil vir verlore tyd vergoed nadat hy deur die moeilikste tyd van sy lewe is met die ernstige kniebesering wat hy verlede jaar opgedoen het.
Die ou wysheid dat daar dikwels ‘n silwer rand om ‘n omweerswolk is, is vanjaar wéér reg bewys toe die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen ‘n kniebesering in die DHL-Stormers se Vodacom Superrugby-wedstryd teen die Waratahs opgedoen het.
Dit het vir Nizaam Carr ‘n groot geleentheid in die beginspan gegee en hy kon in die oorblywende ses wedstryde in die toernooi as agtsteman begin. Daarmee was hy ook deel van die indrukwekkende regrukpoging waar die Stormers hul laaste vyf wedstryde gewen het.
‘n Persoonlike hoogtepunt was die sege van 20-15 oor die Reds op Nuweland nadat die Stormers gesukkel het op hul toer van Australië en Nieu-Seeland.
“Ek fokus altyd daarop om ‘n hoë werkverrigting te hê en die 30 duikslae wat ek teen die Reds uitgevoer het was die meeste in ‘n wedstryd in my loopbaan.”
Nietemin is sy vermoë om ‘n verskil met die bal in die hand te maak sy grootste deug. Dit het vir die Stormers ‘n ander dimensie gegee nadat Vermeulen beseer is.
“Duane is ‘n direkte en fisieke speler, terwyl ek meer op die aanval ingestel is. Ek hou daarvan om die bal in die hand te hê, maar sal nie wegskrum van verdediging af nie,” sê Nizaam.
Die 22-jarige is verheug om vanjaar weer op die veld te kon wees nadat hy in verlede jaar se Superrugby-wedstryd teen die Cheetahs op Nuweland ‘n ernstige kniebesering opgedoen het.
Dit was in sy sesde wedstryd vir die Stormers – maar slegs tweede in die beginspan – nadat hy sy buiging in ‘n sege van 27-17 oor die Blues op Nuweland gemaak het.
Hy het egter in daardie handjievol wedstryde reeds kennis gegee van sy yslike talent en dis met groot opgewondenheid waarmee daar nou na die Absa Curriebeker-reeks uitgesien word.
“Die Curriebeker-reeks kom op ‘n baie geleë tyd vir my om te wys van watter stoffasie ek gemaak is,” sê Nizaam.
“Ek is maar nog jonk wat Super Rugby betref en die Curriebeker-reeks is ‘n goeie geleentheid om die trappie te klim. My langtermyn doelwit is om eendag ‘n Springbok te word.”
Ofskoon ‘n langtermyn-besering die laaste ding is wat ‘n speler sal help om sy ambisie te realiseer, voel Nizaam dat verlede jaar se terugslag op ‘n sekere vlak vir hom goed was.
“Die besering het vir my perspektief gegee. Dit was die taaiste nege maande in my lewe,” sê hy.
Nizaam se karakter word verder geslyp deur sy geloof as Moslem. Hy moes tussen 8 Julie en 7 Augustus tussen ses-uur die oggend en ses-uur die aand in die heilige maand van Ramadaan vas. Dit maak oefensessies uiteraard ‘n groter uitdaging as gewoonlik.
Terselfdertyd hou afrigters daardie dinamika natuurlik in gedagte met hul verwagtinge en beeld dit ook die diversiteit in die Westelike Provinsie uit. Dis veral positief gegewe hoe goed die huidige groep spelers oor die weg kom.
“Dis ‘n maand waar jy vergifnis vra van jou Skepper. Ek het die afgelope vier weke geoefen en het ‘n bietjie gewig verloor,” sê Nizaam.
“Rohan Kitshoff het aan my gesê dat hy baie respek vir my het en dis iets wat my diep raak. Hier maak ons voorsiening vir alle kulture. Daardie diversiteit is ‘n baie goeie ding. Ons respekteer mekaar.”
Soos baie van die WP se sterre is Nizaam by die Rugbyinstituut in Stellenbosch geslyp. Daar het hy saam met Eben Etzebeth, Siya Kolisi, Scarra Ntubeni, Frans Malherbe en Steven Kitshoff deurgekom.
Dit was nadat sy rugbyopvoeding by die Diocesan College (Bishops) begin het.
Hy gaan waarskynlik dikwels in vanjaar se reeks in ‘n lostrio saam met Rynhardt Elstadt en die kaptein, Deon Fourie, speel. Dis ‘n kombinasie wat die WP se afrigter, Allister Coetzee, baie opgewonde maak.
“Nizaam het ongelooflik goed ontwikkel,” sê die breier. “Die kombinasie van hom, Rynhardt en Deon het ‘n baie goeie balans. Jy het ‘n breker in Rynhardt, ‘n ou wat omkeerbesit wen in Deon en dan vir Nizaam wat ‘n skakel is op die aanval en goeie lyne hardloop.”
Nizaam benadruk hoe belangrik vanjaar se Curriebeker-reeks is – vir hom persoonlik maar bowenal vir die span. Hy moes weens sy besering verlede jaar van die kantlyn af kyk hoe sy maats dié trofee vir die eerste keer in 12 seisoene verower.
Die feit dat die Super-reeks nie goed gegaan het nie, beteken dat die span verbete sal baklei om sy titel as kampioen te verdedig.
“Ons het baie mense in die steek gelaat in die Super-reeks. Ons fokus is hoofsaaklik daarop om ons trots terug te kry en die beker te hou,” sê hy.
Daar gaan waarskynlik baie oor dié agtsteman gepraat word in daardie aanslag.
DHL Western Province Matchday Magazine