DHL WP-stêr Gio Aplon se rol sal vanjaar verder strek as om bloot amok met die bal in die hand te saai.
Daar was 'n tyd toe Gio Aplon bloot aan gedink is as 'n speler met x-faktor op die aanval, maar dis sy leierskap wat vanjaar vir die DHL-Westelike Provinsie in hul Absa Curriebeker-veldtog van deurslaggewende belang kan wees.
Gio is op 30 die ou man in 'n WP-agterlyn met groentjies in die SA O20-ster Cheslin Kolbe op vleuel en die 21-jarige Pat Howard op buitesenter. Selfs die binnesenter Damian de Allende, wat in die Super-reeks baie ervaring opgedoen het, is nog net 21.
“Ek het al 'n paar Curriebeker-reekse agter die rug en het die verantwoordelikheid om seker te maak dat daar goeie samespel gevestig word. Ek moet ouens soos Cheslin en Pat help om hul voete te vind,” sê Gio.
Terselfdertyd glo hy die jong manne se energie sal aansteeklik wees en ag homself nie oud genoeg om by hulle te leer nie. “Hulle gaan 'n verfrissende energie na die span bring. Cheslin kan byvoorbeeld met sy aftrappe 'n nuwe dimensie bring.”
Dit sal Gio ook glad nie pla as dit Cheslin is wat die koerantopskrifte maak nie. Inteendeel, hy sal dit verwelkom.
“Ek sal graag die bal by die jong manne wil uitkry,” sê Gio. “Ek het al in die verlede baie krediet gekry en dis die jong manne wat nou die geleenthede moet kry om te wys wat in hulle steek.”
Die eerste groot les wat Gio wil oordra is dat die spel tussen die lyne en nie op papier gespeel word nie. Dis veral belangrik gegewe dat die WP vanjaar se reeks met 'n sterk span afgeskop het en ook baat by kontinuïteit van die Super-reeks af.
“Daar is die gevaar dat ouens na die spanlys kan kyk en dink hulle het reeds gewen. Wat op papier staan, móét na die veld oorgedra word,” sê hy.
“Die voordeel wat ons het is dat ons kontinuïteit en selfvertroue het. Die nadeel is egter dat ons 'n teiken op ons rug gaan hê nou dat ons die kampioene is. Elke span gaan oorgehaal wees om ons te klop.
“Daar is 'n baie fyn lyn tussen selfvertroue en arrogansie wat ons nie moet oorsteek nie. Dis die senior spelers se verantwoordelikheid om seker te maak dat dit nie gebeur nie.”
Gio het in verlede jaar se eindstryd in sy 83ste wedstryd en agtste seisoen met die WP uiteindelik die glorie van 'n toernooi-sege geproe.
“Ek kan steeds daardie laaste oomblik onthou toe die eindfluitjie geblaas het,” sê hy.
“Solank as wat ek hier is, sal ek altyd van nóg welslae vir die WP droom. Die Super-reeks is dié een wat 'n mens na streef om te wen, maar die Curriebeker bly belangrik. Daar is uiters baie tradisie daaraan gekoppel en dis ook waar dinge vir my begin het.”
Gio onthou hoe die voormalige Springbok-vleuel Breyton Paulse gehelp het om hom groot te maak en wil nou dieselfde vir Cheslin doen.
“Cheslin gaan 'n ongelooflike speler word. As jy kyk hoe hy oefen, kan jy sien dat hy toetsrugby gaan speel. Hy kan selfs pale toe skop. Hy is gretig om te leer en die hoeveelheid talent wat hy het is merkwaardig. Ek beskou dit as my verantwoordelikheid om hom te help.”
Gio het by Cheslin reeds dieselfde leeuehart raakgesien as wat in sy eie bors klop.
“Cheslin is glad nie bang nie en dis die eerste groot ding waarna ek kyk. As jy nie skrikkerig is nie, is daar klaar nie probleme nie. Hy is nie bang om te duik nie en al die ander vaardighede is óók daar,” sê hy.
Maar moenie Gio se potensiële impak afskryf nou dat daar jong bloed is nie. Hy het hom al keer op keer op dié vlak bewys en daar is waarskynlik nie 'n gevaarliker speler op die teenaanval in Suid-Afrika nie.
Dis kwaliteite waarvan daar nie genoeg gesien was in vanjaar se Vodacom Super-reeks nie. Gio is egter vanweë Joe Pietersen se vertrek terug in sy gunsteling posisie van heelagter en dit kan hom help om sy stempel deegliker af te druk.
“Ek dink ek sal op heelagter meer in die spel kan kom,” sê hy.
“My werkverrigting is baie belangrik. Ek moet harder werk om in goeie posisies te kom – nie net om myself beter te laat geld nie, maar ook om ander spelers in posisies te plaas.”
Dis Gio vir jou – vrygewig met sy raad en toegewyd tot die saak. Daar is net soveel meer rede om vir hom waardering te hê nou dat hy homself óók as leier laat geld.
DHL Western Province Matchday Magazine